As jou lyf jou grootste vyand word
Jou immuunstelsel is veronderstel om jou teen infeksies en siektes te beskerm, maar wat doen jy wanneer dit téén jou draai? Carla van Niekerk kyk na outo-immuunsiektes.
Tien dae voordat sy die salsa in die eindronde van ’n danskompetisie sou dans was Tracey-Lee Davis (25) van Midrand nog in die hospitaal waar sy sowat 40 kortisooninspuitings in al haar gewrigte gekry het.
Die outo-immuunsiekte rumatoïede artritis (RA) is op 16 jaar by Davis, wenner van die o.40-titel in die Abbott Dance for Life-kompetisie, gediagnoseer.
Die doel van dié danskompetisie, gegrond op die TV-reeks So You Think You Can Dance, is om mense met chroniese ongeneeslike siektes te help om weer ’n aktiewe lewe te lei.
“Voordat ek gediagnoseer is, het ek pyn in my bene gehad.
“Die dokters het omtrent ’n jaar lank gesê dit is groeipyne en een het my na ’n rumatoloog verwys.
“Die RA het in my knie begin, maar ek het dit in al die gewrigte in my liggaam.”
Sy vertel verder sy kon soms nie skool toe gaan nie; sy moes haar danslesse kanselleer en was maande lank in ’n rolstoel.
Soms was sy so swak dat sy nie eens ’n vurk kon vashou nie.
“Jou gewrigte raak styf, ’n bietjie rooi en swel op.
“Wanneer dit opvlam, kan ek dae lank nie slaap nie.”
Davis, ’n joernalis by die nuusagentskap News Flash, het in 2006 Abbott-laboratoriums se biologiese behandeling begin en sê dit gaan nou stukke beter.
Die verbode siektes
Prof. Ronnie Anderson, hoof van die departement immunologie by die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens aan die Universiteit van Pretoria, sê outo-immuunsiektes is ’n toestand wat nie werklik moet bestaan nie.
“Dit word die verbode siektes genoem en vind plaas wanneer die immuunstelsel die liggaam aanval. Die mens se immuunstelsel het ontwikkel om beskerming teen infeksies te bied, wat ’n konstante bedreiging vir ons bestaan is.”
Anderson verduidelik dat die immuunstelsel ’n meganisme het, genaamd selfverdraagsaamheid, wat verhinder dat die liggaam sy eie weefsel aanval.
“As dié proses misluk, kan ’n outo-immuunsiekte ontwikkel.
“Ons immuunstelsels is so doeltreffend dat ’n mens min hoor van iemand wat ’n ernstige bakteriële infeksie kry.”
Kinders met ontwikkelende immuunstelsels, MIV/vigs-lyers en bejaardes is die uitsonderings.
Die immuunstelsel word minder doeltreffend met ouderdom, sê hy.
Anderson sê volgens Medline Plus, die Nasionale Biblioteek van Medisyne in die VSA, bestaan daar meer as 80 verskillende soorte outo-immuunsiektes.
“Maar ek vermoed dat dit ’n onderskatting is.”
Waarom gebeur dit?
Anderson sê die meeste outo-immuunsiektes toon ’n duidelike genetiese komponent.
Dit is ook algemener onder vroue as mans.
“Daar is duidelik ’n hormonale faktor betrokke.
“Die verhouding vir RA is drie tot een, vir Grave se siekte (waar die skildklier ooraktief is en te veel hormone vervaardig) is dit sewe tot een en vir sistemiese lupus eritematose (SLE) (waar die liggaam se immuunstelsel sy eie weefsel en selle aanval) is dit vier of vyf tot een.”
Volgens Anderson kan ander faktore soos bestraling deur blootstelling aan die son, sekere medikasie en chemikalieë, sigaretrook of infeksies ook die sneller wees vir outo-immuunsiektes.
“Sigaretrook kan ’n mens vatbaar maak vir RA en veelvuldige sklerose.
“Dit is nie die enigste oorsaak van die siekte nie, maar daar is duidelike aanduidings dat dit ’n bydraende faktor kan wees.”
Ouderdom kan ook ’n oorsaak vir dié toestande wees, sê hy.
“Met ouderdom verswak die meganismes wat selfverdraagsaamheid handhaaf. Die weefselselle verander byvoorbeeld en jou eie immuunstelsel misgis dit dan vir indringers.”
Die meeste outo-immuunsiektes begin in die derde of vierde dekade van ’n mens se lewe, met die uitsondering van tipe 1-diabetes, wat van tien tot 15 jaar kan ontstaan en SLE, wat van enige ouderdom af kan ontwikkel.
Vir meer inligting oor die verskillende soorte artritis, verwysings na dokters of berading, skakel die Artritis-stigting van Suid-Afrika se nasionale hulplyn by 0861 30 30 30.
Soek gou behandeling
Anderson sê dit is belangrik dat mense wat aan outo-immuunsiektes ly so gou moontlik die regte behandeling kry.
“Vir van die siektes kan ons vooraf toets deur die outo-teenliggaampies te meet. In die geval van rumatoïede artritis (RA) en tipe 1- diabetes gaan die verskyning van die outo-teenliggaampies die ontwikkeling van die siekte dikwels vooraf.”
Hy voeg by dit is veral belangrik om RA gou te behandel voordat die gewrigte te veel beskadig word.
“Sommige siektes, soos outo-immuun- tiroïditis, word maklik behandel: Jy vervang die orgaan se funksie.
“Vir pernisieuse anemie (as jou immuunstelsel jou rooibloedliggaampies aanval) word vitamien B12 een keer per maand in die spiere toegedien en geen medisyne is nodig nie.”
Vir Celiac se siekte, wat gewoonlik onder jong kinders voorkom wat allergies is vir gluten, kan gluten net vermy word.
Ander outo-immuunsiektes vereis egter meer indringende behandeling, soos immuunonderdrukkende middels.
Dit het weer newe- effekte soos dat dit die persoon vatbaarder maak vir infeksies.
Outo-immuunsiektes kan nie genees word nie, jy omseil net die probleem, voeg hy by.
“Hopelik kan die pasiënt in remissie gaan wanneer die siekteproses onderdruk word.”
Vae simptome
Prof. Ronnie Anderson van die Universiteit van Pretoria sê outo-immuunsiektes se simptome is gewoonlik nie baie spesifiek nie.
“As daar ’n familiegeskiedenis van outo-immuunsiektes is, moet jy bewus wees van die risiko.”
Die mees algemene van dié toestande is rumatoïede artritis, tiroïditis, tipe 1-diabetes en pernisieuse anemie. Dr. Noel Rose van die Johns Hopkins-universiteit in die VSA skryf op webmd.com vae simptome, soos die verlies aan gevoel in jou hande en voete, kan ontstaan namate die siekte ontwikkel.
http://www.beeld.com/Leefstyl/Nuus/Pols ... d-20110208