Radebe weier om inligting oor wapentransaksie te gee
2011-07-02 23:45
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Rapport op
Jou selfoon Jan-Jan Joubert
Mnr. Jeff Radebe, minister van justisie, het ’n DA-versoek vir verdere inligting rakende die wapentransaksie afgewys.
Luidens ’n antwoord op ’n formele versoek vir toegang tot inligting (’n Paia-aansoek) deur mnr. David Maynier, DA-LP, voer Radebe aan internasionale betrekkinge sal negatief geraak word indien dié inligting bekend is.
Die lande ter sprake is Brittanje, Duitsland, Liechtenstein, Switserland en Jersey.
Sy besluit kom te midde van aanduidings dat onthullings deur die Sweedse nywerheidsgroep Saab oor beweerde omkoopgeld van R24miljoen deur die maatskappy Sanip tydens die wapentransaksie, eersdaags tot ongemaklike navrae uit Swede aan die Suid-Afrikaanse owerhede kan lei.
Maynier se aanvanklike versoek aan die departement van justisie was vir alle dokumentasie rakende versoeke om wedersydse regshulp oor die wapentransaksie wat tussen Suid-Afrika en ander lande aangevra is.
Sulke wedersydse regshulp sou ’n ondersoekeenheid in een land onder meer toegang gee tot tersaaklike bankrekords in ’n ander land, sodat ongemagtigde oorbetalings aan individue byvoorbeeld nagegaan kan word.
Maynier se navraag hou onder meer verband met stellings deur lt.genl. Anwar Dramat van die Valke-ondersoekeenheid oor die verloop van vorige navrae oor sulke internasionale wedersydse regshulp.
Luidens ’n brief van Dramat aan mnr. Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het die destydse Skerpioene-ondersoekeenheid (die Valke se voorganger) regterlike instemming bekom om sulke wedersydse hulp van Brittanje, Jersey, Switserland en Liechtenstein aan te vra.
Protokol bepaal dat Suid-Afrika se nasionale vervolgingsgesag (NVG) dit aanvra.
Die vervolgingsgesag het egter in 2008 slegs die versoek aan Jersey gestuur en dit teruggetrek voordat daaraan voldoen kon word. Die NVG het verseg om die ander versoeke te stuur.
Maynier het die saak opgevolg, maar sy versoek om inligting is op 14 Desember deur die departement afgewys en hy het in Februarie geappelleer na Radebe as verantwoordelike minister.
Radebe het die versoek al in April geweier, maar die weieringsbrief het Maynier eers die afgelope week bereik.
Sy redes is dat die inligting wat Maynier verlang verhoudinge met die tersaaklike lande kan skaad, en dat enige soortgelyke versoeke wat Suid-Afrika ontvang het deur diplomatieke kanale gestuur is waarvan Suid-Afrika nie die vertroulikheid kan skend nie.
In reaksie het Maynier gesê hy meen die aangevraagde dokumente sou wys dat die vervolgingsgesag, onder aanvoering van adv. Menzi Simelane, ’n doeltreffende ondersoek na die wapentransaksie probeer keer het.
