LUR vra vir strenger vuurwapenwette2013-03-11 16:55

Johannesburg – Patrick Mabilo, LUR vir veiligheid in die Noord-Kaap, sê strenger vuurwapenwette – veral vir private vuurwapens – kan die voorkoms van skietvoorvalle in die land drasties verminder.
RSG berig die politikus het gepraat voor die hofsaak van 'n 16-jarige seun wat van verlede jaar se opspraakwekkende moorde op Griekwastad aangekla word.
Die verdagte se verhoor het Maandag in die Kimberleyse hooggeregshof afgeskop.
Hy word aangekla van die moord op Deon Steenkamp, sy vrou, Christelle, en hul dogter, Marthella. Hulle is verlede jaar op Goeie Vrydag in hul plaashuis doodgeskiet.
Die verdagte word ook daarvan aangekla dat hy die meisie verkrag het.
Mabilo het gesê die land moet daarna streef om 'n samelewing sonder vuurwapens te word, aangesien te veel vuurwapens in mense se huise die verkeerde indruk skep dat dit gebruik kan word om geskille op te los, het die radiostasie berig.
Die kwessie van vuurwapenbeheer word ook tans in die VSA bespreek.